Kom ek vertel julle 'n verhaal van ons boere.....
'n Mens kry boere wat nie tipiese boere is nie. Veral jou tjekboek boere.
Dit is die dokters, prokureurs, eiendomsagente en 'n arsenaal onbeskaafde,
ryk gomgatte wat hulle geld in die stad as "penelbieters" of
aandelemakelaars gemaak het. Hulle is nie ware boere nie.
So halfwas boer se grond is klaar betaal, sy krippe lek nie, sy lyndrade
hou jou wragtig beeste binne en sy hekke hang nie. Sy 4x4 bakkie het
CD-speler, is altyd blink, het skoon nuwe bande en trek n nuwe waentjie. Sy
seuns neem dramalesse en weet absoluut niks van 'n kettie of dikmelk af nie.
Natuurlik onder die ware boere is daar juis die een wat ook probeer anders
wees. Hy dra denimlangbroeke en gholfkepse, hy borsel sy tande voor brekvis,
gebruik sy eie handdoek en spuit goed onder sy arms. Vir so boer moet jy
versigtig wees... hy het waarskynlik nog nooit 'n Joseph-Rogers mes gesien
nie. Hy drink Pinotage by ete, braai vis pleks van tjops en maak die kar se
deur vir sy vrou oop. Hy is 'n "sissie".
'n Regte boer dra 'n hoed. Ou boere dra ou hoede met 'n wye rand wat na
jare se sweet ruik. Nuwe boere dra 'n nuwe hoed wat heel onvanpas soos 'n
vars miskoek op sy kop lyk. 'n Boer rook 'n kortsteelpyp wat hy met 'n
hoenderveer skoonmaak. 'n Boer drink brandewyn met brakwater of Coke. En hy
drink hom sterk, 4 vingers sterk. Sonder ys.
'n Boer se vrou kan kassies tamaties pak, 'n koolstoof brandmaak, truie
brei, pap wiele omruil, 'n rinkhals agter die yskas doodslaan, duwweltjies
uit voete uit haal en babatjies vang.
'n Boer verneuk niemand nie, behalwe die keiser. 'n Boer betaal nie
belasting nie, net BTW, wat hy terugeis.
'n Boer het 'n dubbelloop-haelgeweer, 'n ou Lee-Metford, 'n nuwe 30-06 en
'n .22 geweer. Hulle lę bo-op die hangkas, want hy het nie 'n geweerkluis
nie. 'n Boer het ook nie 'n tyddeel nie, maar baie tyd. Hy slaap smiddags
tussen 1 en 2.
'n Boer het net 1 pak klere wat hy kerk toe en troues toe aantrek. Die pak
is te klein. Die boer gaan kerk toe maar stem nie saam met die sinode se
besluite nie. 'n Boer praat nie Ingels nie, buiten 'n klompie in die kolonie
en Natal. Maar hy kan 'n swart taal praat. Wanneer 'n werker die hek laat
ooplę en die beeste in die lande kom, praat hy verskeie tale gelyk. En
vinnig.
'n Boer het deesdae 'n sakrekenaar, veral by die vendusie. Maar hy sukkel
steeds om uit te werk hoeveel water sy boorgate het, veral as hy sy plaas
wil verkoop aan iemand wat wil weet hoeveel water daar is sodat hy
bankrotbossies, net 'n geleerde naam vir tamaties, kan plant.
'n Boer glo nie in gesinsbeplanning nie. Min kinders los hy vir die
Ingelse, vir mense wat nie 'n groot werf het nie en diegene wat vir hulle
vleis moet betaal. 'n Boer se seuns kry 'n beurs vir die skoolkoshuis en
speel rugby,nie krieket nie. Na skool gaan hulle universiteit toe. Daarna
kan hulle nooit weer boorgatpype trek nie en word vaal ouditeurtjies in
gryspakke en blink leerskoene wat hulle pa wil leer boer as hulle vakansies
met hulle sagte handjies kom kuier.
Niemand skiet deesdae meer verniet op 'n boer se plaas nie - net die
bankbestuurder.
'n Boer weet meer van politiek, die ekonomie, die jongste krieket telling
in Indie, aandele pryse, vroue-operasies, die goudprys, stakings en
koekresepte as enige iemand anders, want hy luister heeldag draadloos in die
Isuzu.
'n Boer glo nie aan nuwe bande vir sy bakkie nie. Hulle moet glad wees
anders ry hulle nie lekker in die sand nie.
'n Boer huil nie, behalwe as die eerste bulkalf van die seisoen aankom of
sy dogter eerste op die skool sportbyeenkoms kom. Hy kry nie seer nie en
gebruik nie pleisters nie, maar hy dra sy hele lewe lank verbande, twee op
elk van sy drie plase.
'n Boer skei nie, hy gaan net dood. Ryk boere gaan arm dood en arm boere
gaan ryk dood. 'n Boer se testament lyk ander as ander mense s'n. Sy vrou en
dogters erf niks grond nie, sy oudste seun erf alles en verloor weer alles -
omdat hy dinge op die plaas probeer doen wat sy pa altyd geweet het nooit
sou werk nie.
'n Boer gaan dan hemel toe.....